Gaan na inhoud

James Cameron

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
James Cameron
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Cameron in Junie 2012.

Geboortenaam James Francis Cameron
Geboorte 16 Augustus 1954 (1954-08-16) (71 jaar oud)
Aktiewe jare 1975-tans

James Francis Cameron[1] (gebore op 16 Augustus 1954) is ’n Kanadese regisseur, rolprentmaker, draaiboekskrywer, uitvinder, ingenieur en diepseeverkenner.[2][3]

Loopbaan

[wysig | wysig bron]
Cameron in September 1986.

Sy eerste groot rolprentsukses was met die wetenskapsfiksie-aksiefliek The Terminator (1984). Hy is daarna in diens geneem om Aliens (1986) te skryf en regisseer; drie jaar later het The Abyss (1989) gevolg.

Hy is geprys vir sy gebruik van spesiale effekte in Terminator 2: Judgment Day (1991). Ná sy prent True Lies (1994) het hy sy grootste rolprent nog gepak: Titanic (1997), waarvoor hy Oscars gewen het vir beste prent, beste regisseur en beste redigering. Hierna het Cameron ’n projek begin wat byna 10 jaar geduur het: sy epiese wetenskapsfiksieprent Avatar (2009), wat ’n mylpaal was in 3D-tegnologie en waarvoor hy vir dieselfde drie Oscars benoem is.

Tussen Titanic en Avatar het hy ’n paar jaar lank dokumentêre prente gemaak (veral onderwater-dokumentêre) en die digitale 3D-Fusion-kamerastelsel help ontwikkel. Hy is deur ’n biograaf beskryf as deels wetenskaplike en deels kunstenaar.[4] Cameron het ook bygedra tot onderwaterverfilmings- en afstandbeheerde-voertuig-tegnologie.[2][3][5]

Op 26 Maart 2012 het hy die bodem van die Marianatrog, die diepste deel van die oseaan, bereik in die Deepsea Challenger-onderwatervoertuig.[6][7] Hy is die eerste mens wat dit in een afdaling gedoen het, en net die derde persoon wat dit enigsins reggekry het.

As inflasie nie in ag geneem word nie, is Cameron se Titanic en Avatar die prente wat die meeste geld nog gemaak het: onderskeidelik $2,19 miljard en $2,78 miljard.