Gaan na inhoud

Poseidon

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Poseidon
Griekse Olimpiese god
Standbeeld van Poseidon in Kopenhagen.
Standbeeld van Poseidon in Kopenhagen.
Naam Poseidon
God van Die see, aardbewings en perde
Blyplek Die see
Simbool Drietandvurk, vis, dolfyn, perd, bul
Vrou Amfitrite
Ouers Kronos en Rea
Broers, susters Hades, Demeter, Hestia, Hera, Zeus
Kinders Teseus, Triton, Polifemos
Romeinse eweknie Neptunus

Poseidon (Grieks: Ποσειδῶν) was in die Griekse mitologie die god van die see, perde en, as "Die Aardskudder", van aardbewings. Hy is een van die twaalf Olimpiese gode, maar het in ’n paleis onder die see gewoon. Poseidon het baie kinders gehad. Daar is ’n lofsang van Homerus aan Poseidon, wat die beskermheer van baie Hellenistiese stede was, hoewel Atena hom geklop het in die stryd om Athene.

Eienskappe

[wysig | wysig bron]

Poseidon het nuwe eilande geskep en die see laat bedaar. As hy beledig of geïgnoreer is, het hy met sy drietandvurk op die grond geslaan en woeste fonteine, aardbewings, verdrinkings en die sink van bote veroorsaak. Matrose het tot Poseidon gebid vir ’n veilige vaart en het soms perde verdrink as ’n offerande.

In Griekse kuns ry hy ’n strydwa wat deur ’n hippokampus (seeperd) getrek word, of deur perde wat op die see kan hardloop. Sy simbole was die drietandvurk, vis, dolfyn, perd en bul. Hy het in ’n paleis op die seebodem gewoon wat van korale en edelstene gemaak was.

Mites

[wysig | wysig bron]

Geboorte en triomf oor Kronos

[wysig | wysig bron]

Poseidon was die seun van Kronos en Rea. In die meeste weergawes van die mite is hy nes sy broers en susters, behalwe Zeus, ná sy geboorte deur sy pa ingesluk en later deur Zeus gered.

In sommige weergawes van die mite spring hy egter nes Zeus dié lot vry. Hy word gered deur Rea, wat hom tussen ’n trop lammers versteek en voorgee sy het die lewe aan ’n hingsvul geskenk. Sy gee dié vir Kronos om in te sluk. Volgens Diodorus Siculus[1] is Poseidon op Rodos grootgemaak en Zeus op Kreta.

Volgens die Ilias het Poseidon die see gekry toe die wêreld in drie verdeel is tussen hom, Zeus en Hades. Zeus het die lug gekry en Hades die onderwêreld.

Nederlaag in Athene

[wysig | wysig bron]
Tempel vir Poseidon by Kaap Sounion, omstreeks 440 v.C.

Atena het die beskermpersoon van die stad Athene geword nadat sy ’n kompetisie teen Poseidon gewen het. Poseidon het egter ’n teenwoordigheid op die Akropolis behou in die vorm van sy surrogaat, Erechteus.

Op ’n Atheense fees het die twee gode ooreengekom dat elk vir die Atheners ’n geskenk sal gee, en dié sou dan kon kies watter een hulle wil hê. Poseidon het met sy drietandvurk op die grond geslaan en ’n fontein het ontstaan. Die water was egter sout en nie baie bruikbaar nie. Atena het vir hulle ’n olyfboom gegee. Die Atheners het die olyfboom gekies, en daarmee saam vir Atena as hul beskermpersoon, want die olyfboom het aan hulle hout, olie en kos verskaf.

Poseidon was so kwaad dat hulle hom nie gekies het nie dat hy ’n groot vloed na die Attika-vlakte gestuur het om hulle te straf. Die induiking wat deur Poseidon se vurk gemaak en met sout water gevul is, is omring deur die noordelike muur van die Erechteum en is onbedek gelaat.

Die kompetisie tussen Atena en Poseidon was die onderwerp van die reliëfwerk aan die westelike kroonlys van die Parthenon, die eerste gesig wat besoekers begroet het.

Die mure van Troje

[wysig | wysig bron]

Nadat Poseidon en Apollo vir Zeus beledig het, het laasgenoemde hulle gestuur om koning Laomedon van Troje te dien. Hy het hulle ’n groot muur om die stad laat bou en belowe om hulle aansienlik daarvoor te vergoed, ’n belofte wat hy toe verbreek het. Uit wraak, voor die Trojaanse Oorlog, het Poseidon ’n seemonster gestuur om Troje aan te val. (Dit is later deur Perseus doodgemaak.)

Ander mites